Groot Bombardement

’n Kunstenaarsvoorstelling van die maan tydens die Groot Bombardement (BO) teenoor vandag (ONDER).

Die Groot Bombardement, ook bekend as die Maankataklisme, is ’n hipotetiese gebeurtenis sowat 4,1 miljard tot 3,8 miljard jaar gelede,[1] tydens die Hadeïese en die Argeïese Eon. In dié tyd het ’n ongewoon groot getal asteroïdes en komete skynbaar teen die vroeë rotsplanete in die binneste Sonnestelsel gebots, onder meer Mercurius, Venus, die Aarde en Mars.[2] Die bombardement het plaasgevind net nadat die rotsplanete gevorm het, maar nog vroeg in die Aarde se geskiedenis.

Bewyse vir die Groot Bombardement is gekry uit monsters wat deur die Apollo-ruimtevaarders van die maan af gebring is. Isotopiese datering van maanrotse dui daarop dat die meeste gesmelte rots vanweë botsings in ’n redelik kort tydperk gevorm het. Verskeie hipoteses bestaan vir die rede vir die groot toename in botsings in so ’n kort tyd teen die binneplanete, maar geen konsensus is nog bereik nie.

Die Nice-model is gewild onder planetêre wetenskaplikes; daarvolgens het die gasplanete ’n migrasie ondergaan en voorwerpe in die asteroïdegordel en/of Kuiper-gordel in eksentrieke wentelbane verstrooi, en dus in die pad van die rotsplanete. Ander navorsers meen die maanmonsterdata is nie ’n bewys van ’n kataklismiese botsingsperiode sowat 3,9 miljard jaar gelede nie; hulle meen die oënskynlike bewyse van ’n bombardement is ’n gevolg daarvan dat al die monsters uit ’n enkele groot impakstreek kom.[1]

  1. 1,0 1,1 Taylor, G. Jeffrey. "Wandering Gas Giants and Lunar Bombardment"
  2. http://www.springerreference.com/docs/html/chapterdbid/324949.html

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search